Lirieke
Stillenag
Winkelpop vertoon die trane
wat my sagkens inspireer
om my opsessie met die maanlig
nog een keer te konfronteer
Son skyn teen die muur
waar verrassings en duiwels skuil
en ek groet die nag
terwyl die wolke begin te huil
Wie weet hoe om hulself te vergeef
Ek droom soms alleen
Rivier stamp klippe teen wortels van wilgerboom
En tyd staan stil, maar ek het reeds verloor
Ek staan nou op die drumpel van sonopkoms se leuens.
Waar het jy jou mes gerus?
draai hom nog ‘n keer
Hierdie keer sal jy leer my hart is net ‘n deur
na ‘n kamer vol gedagtes deur geraamtes verskeur.
Tyd stap te vinnig
met elke asem nader na ons terugkeer na sand
Bloedrots wat nooit verander
Stuurman, Seeman roep een laaste keer
in die diepste modderpoele lê my hart steeds en verweer
Ek skree veer hard
Ek skree “Weer Hart!”
Ek skree “ Verweer Hart!”
Ek skree….
Stillenag Donker stemme deur jou
Stillenag Ek voel my bors klop in die
Stillenag Nog een asem vir jou
Stillenag
Rateljagter
Uit die diep van ‘n grot,
sag verweer,
verlaat ‘n druppel
Prag van die son teen donker weer
ek die wolk jy die kleur
Jy en jou reënboog feetjies
Ek en my donker liedjies
Ek is ‘n rooibokkie in leeu se klere
‘n Rateljagter wat skaamloos bewe
Genade onbeskryflik groot
Ek sal nooit wen as jy verloor
Jy en jou reënboog feetjies
Ek en my donker liedjies saam
Ou verlate spore
ruk ons harte heen en weer
Maar alles sal genees
as ons net soos een beweeg
Ons lig soms van die aarde
maar tuimel dan weer neer
Druppels uit die hemel
verpletter teen die teer
Lig jou vere,
sprei my uit
en sweef
Ek en my donker liedjies
Jy en jou reënboog feetjies
Ons en ons lewensdeuntjie saam
Uit die diep van ‘n vlam,
blou bekeer,
vloei ‘n druppel
Son breek deur die donker weer
Ek die wolk
Jy die kleur
Vlerke Neer
Wat as jou hande nooit verander
Streel sonder om te raak
Wat as die woorde steeds vooruit stap
Ek steeds mompel as ek praat
Wat as die wonderwerk verby is
En ons skree teen die wind
Binnemonds still gelowig
Ek het my diepste seer gevind
Ek wil nooit weer sing nie
Ek sal nooit weer sing nie
Engel lê jou vlerke neer
Jy het meer as hard genoeg probeer
Om die wêreld te draai
My hart te herlaai
En jou lig oor ons te saai
Ek verander as jy vuisslaan
Ek voel beter as jy sing
In die prentjie word jy nooit ouer
‘n hemel teen die wêreld kind
Ek wil nooit weer staan nie
Ons sal nooit bestaan nie
Engel lê jou vlerke neer
Jy het meer as hard genoeg probeer
Om die wêreld te draai
My hart te herlaai
En jou lig oor ons te saai
en oor die wêreld, en oor die wêreld
en oor die wêreld, en oor die wêreld
En ek lê jou vlerke neer
Ek het meer as hard genoeg probeer
Om die aarde terug te draai
My hart te oorlaai
En die laksman te verraai
Engel lê jou vlerke neer
Jy het meer as hard genoeg probeer
Om die wêreld te draai
My hart te herlaai
En jou lig oor ons te saai
en oor die wêreld
toe verloor die wêreld…
toe verloor die wêreld…
toe verloor ons
Net Ons
Trek my nader
Stoot my weg
en laat my breek
Soos die donker maan met die oseane speel
‘n Twee kleur lewe van swart op rooi
maar met jou hier
lyk alles weer mooi.
Laat my brand ek gloei vir jou
Smulder sing in die môre dou
En as my siel steeds aan die donker klou
begrawe dit hier
net ek en jy weet nou
begrawe hom hier
net ons weet nou
In my drome skilder ek steeds vir jou
Sonder woede, sonder wreed en sonder rou
Bliksemstrale sing in die spoorweghuisie saam
want vanaand is die aand
wat ons letsels vergaan
Laat my brand ek gloei vir jou
Smulder sing in die môre dou
En as my siel steeds aan die donker klou
begrawe dit hier
net ek en jy weet nou
Begrawe hom hier
Net ons weet nou
Sanet se Kind
Sal jy ooit ‘n vliegtuig kan verstaan
Ooit weet waarheen hy gaan
Rukkende winde oor ‘n vol oseaan
en teen dagbreek
sal ons weer jonk wees
Trap saggies as jy loop
Weet jy waar ons die tyd
weer terug kan koop
Ligte antwoorde
Simpel sagte woorde
is van suiwer goud gemaak
Ek is Sanet se kind
Ek speel oor die wêreld wind
op ou geroesde snare
sing in vreemde tale
Selfs as die vlamme woed
en my beklee in roet
sal ek altyd op kan staan
want ek is Sanet se kind
Met wonderwerk-sprokies kan jy toor
Oor bobbejaan-stertjies en geloof
Tussen husse met lang ore
in die pikkewouter-lande
sal ons vreesloos ouer word
Ek is Sanet se kind
Ek speel oor die wêreld wind
op ou geroesde snare
sing in vreemde tale
As oseane blink
my probeer verdrink
sal ek altyd op kan staan
Want ek is Sanet se kind
As ek op die pad myself verloor
Knip my oë, nog ‘n monster dood
Selfs deur die donker stap ons voort
Want jy dra my hart
Ek is Sanet se kind
Ek speel oor die wêreld wind
op ou geroesde snare
sing in vreemde tale
Selfs as storms breek
my oor die grondpad sleep
sal ek altyd op kan staan
Want ek is Sanet se kind
Krullebos
Diep gedagtes neem ‘n dromer op ‘n slee
Tussen kersiebome
geheime wel en wee
Saggies skelm druk hy
‘n trui vas teen sy bors
In sy verbeelding
dans hy met ‘n krullebos
Tussen skaterlag en tussen somerreën
As liewe Jesus wil, kan ons môre weer probeer
Prentjiestorie oor die lyne ingekleur
Wys Elizabeth weer dans in die reën
Elke druppel vertel ‘n storie
van liefde, pyn en seën
En ek hardloop nader
om te luister na elke een.
Tussen skaterlag en tussen somer reën
Tussen ogies maak en tussen reënboogkleur
Tussen klaar gepraat en tussen hartjie seer
As liewe Jesus wil, kan ons môre weer probeer